Hierdie is ’n intense en emosionele musiekreis deur ons onlangse geskiedenis wat ook die orrel se relevantheid as ’n “kommentator” op groot nuusgebeure beklemtoon. Bekroonde orrelis Winand Grundling improviseer op die orrel aan die hand van stemkunstenaar Johann Nel se voordrag van die destydse brekende nuus oor spesifieke gebeurtenisse soos die Hindenburg-lugramp, die atoombomaanval op Hirosjima, die maanlanding, Nelson Mandela se vrylating, die Springbokke se eerste Wêreldbeker-oorwinning, prinses Diana se dood, 9/11 en die Covid-19-pandemie. Van klassieke tot kontemporêre musiek.